Reproduksie en die bestuur daarvan

INLEIDING

Reproduksie is die mees kritiese faktor in die hedendaagse vleisbeesboerdery!  Dit is die een eienskap wat ‘n vleisbeesvertakking kan maak of breek aangesien die geboorte van ‘n kalf die mees belangrike seleksiedoelwit is.  As die koeie nie kalf nie, kan geen verdere seleksie moontlik wees nie…

Om die reproduksie van ‘n kudde koeie te verbeter, is dit noodsaaklik om die kudde te ken.  Weet wat is die koeie se grootste tekortkominge, stel doelwitte op wat bereik moet word, stel ‘n plan van aksie op om die doelwitte te behaal, en tree dan offensief op om dit te behaal.

BELANG VAN REPRODUKSIE

Die belang of voordeel van reproduksie is onder meer die volgende:

  • Verhoogde reproduksie verhoog die aantal diere wat gebore en bemark kan word,
  • Minder koeie is onproduktief en dus minder koste vir inentings, lek, dip en doserings sonder ‘n kalf wat daarvoor gaan instaan,
  • Meer kalwers verhoog die intensiteit waarmee geselekteer kan word
  • kudde se genetiese vordering is vinniger,
  • Meer kalwers verlaag die oorhoofse koste
  • wins verhoog dus.

‘n Goeie voorbeeld is ‘n studiegroep in die Ooskaap wat besluit het om as studiegroep vir reproduksie te selekteer.  Oor ‘n aantal jare het hul speenpersentasie van 60% tot 85% toegeneem.  Die resultaat was dat 40% meer vleis/ha geproduseer is – en dit sonder enige ekstra koste.  Hierdie toename is bewerkstellig deur doeltreffende kuddebestuur en effektiewe weidingsbestuur.

FIGUUR 1 :  KOEI MET ‘N TWEELING

Die verbetering van die reproduksietempo van ‘n kudde uit ‘n genetiese asook bestuursoogpunt, behoort hoë prioriteit te geniet.  Volgens navorsing is die erfbaarheid van reproduksie matig tot hoog en wissel dit van 10% tot sowat 50%. Verskeie komponente van reproduksie, byvoorbeeld dragtigheidsperiode (50%), skrotumomvang (57%), semenkwaliteit (28%) en sistiese eierstokke (45%), toon soortgelyk voordelige erfbaarhede.  Dus sal dit seleksievordering bewerkstellig.  Goeie bestuurspraktyke, tesame met voedingspraktyke en fisiologiese aspekte is eweneens van die grootste belang om die veeboerdery optimaal te bedryf.

Die reproduksieketting (FIGUUR 2) sluit die volgende faktore in wat apart bespreek sal word:

  • Kalwing
  • Estrus
  • Dekking
  • Dragtigheid

 

FIGUUR 2 :  DIE REPRODUKSIEKETTING

DIE KALFSEISOEN

Die kalfpersentasie in ‘n vleisbeeskudde is krities belangrik om die kudde volhoubaar te bestuur.  Speenmassa lewer nie so ‘n groot bydrae tot die winsgewende kudde as wat algemeen aanvaar word nie – die kalfpersentasie dra by verre meer by daartoe.  Daar is ‘n verwantskap tussen groeitempo (speenmassa) en kalfpersentasie wat gehandhaaf moet word ten einde die massa bemarkbare vleis in ‘n kudde te verhoog.  Dié verwantskap is ‘n weerspieeling van produktiwiteit van ‘n kudde.  Hier is dit duidelik dat speenmassa sy grootste impak op die massa vleis geproduseer het wanneer die kalfpersentasie die hoogste is (FIGUUR 3).

FIGUUR 3 :  KALF% VS SPEENMASSA

Indien die kuddebestuur en voeding optimaal is, geen diere siek was nie en die bulle gesond en vrugbaar was tydens die dekseisoen, moet die koeie dragtig raak.  Dit beteken dat koeie slegs 83 dae na kalwing het om dragtig te raak om sodoende ‘n interkalfperiode van 365 dae te hê.  Koeie moet in ‘n goeie kondisie wees as hulle kalf (tussen 3.5 en 4.0 kondisietelling).  Dit verseker dat hulle vinniger beset sal raak in die daaropvolgende dekseisoen (FIGUUR 4).

FIGUUR 4 :  VERWANTSKAP TUSSEN KONDISIE MET KALWING EN HERBESETTING VAN SANTA GERTRUDISKOEIE

Die uitdaging is dus om al die koeie binne ‘n redelike tyd dragtig te kry.  Daar is verskeie faktore van belang wat ‘n belangrike rol speel om dragtigheid te verseker.

 

 

DIE DEKSEISOEN

Die dekseisoen is die begin van die daaropvolgende kalf- en speenpersentasie.  Indien die dekseisoen suksesvol is, sal die koeie kalf en sal ‘n hoë speenpersentasie behaal word.  ‘n Onsuksesvolle dekseisoen lei tot ‘n verlaagde kalfpersentasie wat nie volhoubaar is nie.  Koeie wat vroeg in die dekseisoen beset word, is meestal die diere wat beter by die spesifieke omstandighede aangepas is en wat ook meer vrugbaar is.  Koeie wat laat in die dekseisoen beset raak, kalf later in die kalfseisoen.  Sodanige koeie kalf elke jaar al later totdat hulle oorslaan.  Nou versamel hulle soveel reserwes dat hulle met die volgende kalfseisoen ‘n baie swaar kalf speen.  Indien alle rekords nie bygehou word nie, kan dit blyk dat sy goeie kalwers speen en haar in die kudde hou.

 

Die nadeel van geen dekseisoen asook 2 dekseisoene kan groot wees.  Slegs een dekseisoen blyk die beste te wees in terme van reproduksie-eienskappe asook vir seleksie.  Twee dekseisoene veroorsaak oor die algemeen dat die koeie se interkalfperiode (IKP) verleng.  Dit is weens die feit dat koeie wat geneig is om oor te slaan, makliker in die kudde bly indien daar ‘n tweede dekseisoen is.  Daar is egter genoeg voordele aan ‘n tweede dekseisoen, maar sorg moet gedra word dat diere nie in die kudde bly wat uitgeskot moes word nie.  Met geen dekseisoen verloor die produsent beheer oor die reproduksieprestasie van die kudde.  Die reproduksiebestuur en seleksie in so ‘n stelsel is uiters moeilik.

Daar is verskeie voordele wat ‘n dekseisoen vir die veeprodusent inhou, en dit is as volg:

  • Identifikasie en uitskot van swak produseerders
  • Monitering tydens kalwing is makliker as koeie in spesifieke tye kalf
  • Voervloei word meer akkuraat bepaal
  • Minder werk weens baie kalwers wat op een slag onthoring word ens
  • Speen kalwers in groot groepe en indekse soos speenindeks en koeidoeltreffendheid kan bepaal word

 

Lang dekseisoene lei tot lang kalfseisoene.  Die kalfseisoen moet verkieslik kort wees, tussen 75 en 90 dae.  Die belangrikste voordele van ‘n kort dekseisoen is die volgende:

  • Dat seleksie vir produktiwiteit en winsgewendheid jaarliks plaasvind;
  • Gereelde gesondheidsaksies tydens groei en reproduksie;
  • Uitskot van onvrugbare/minder vrugbare diere;
  • Uitskot van nie-winsgewende diere (lae doeltreffendheid);
  • Seleksie vir vervangingsverse is baie meer akkuraat;
  • Verminder fisiese bestuursaksies aangesien diere nader aan mekaar gebore word (byvoorbeeld brandmerk en onthoring).

 

Indien koeie nie in 75 tot 85 dae beset word nie, word hulle beskou as laer vrugbaar en is dit raadsaam om hulle uit te skot.  Die behoefte is dat koeie vroeg in die dekseisoen beset raak.  Dit beteken dat hulle kalwers swaarder gaan wees met speen en dus ook minder vatbaar vir speenskok.  Dit is ook al bewys dat koeie wat vroeg in die kalfseisoen kalf, vinniger herbeset word in die daaropvolgende dekseisoen.

 

Daar is ‘n paar vrae wat gevra kan word om seker te maak die koeie sal uiteindelik beset word en kalf. 

 

Die eerste vraag is:  Kom die koeie in siklus?

Vir die eerste 30 tot 50 dae na kalwing, sal die koeie nie op hitte kom nie (anestrus) weens die herstel van die baarmoeder (baarmoederinvolusie).  Voeding is die een aspek wat die grootste invloed het op die lengte van hierdie periode.  Die voedingsbehoefte van die koei is die grootste ongeveer 30 dae na kalwing.  Daarom word gepoog om hierdie periode te laat saamval met die beskikbaarheid van die beste weiding.  Dit beteken dat die eerste kalf van die kalfseisoen ongeveer 1 maand voor die aanvang van die reënseisoen gebore moet word.  Die aanvang van die dekseisoen moet dus beplan word in ooreenstemming met wanneer die kalwers gebore moet word.

Word die koeie gedek?

Daar moet seker gemaak word dat elke bul in die trop voldoende libido het (die wil om te dek), asook dekbehendig is.  Die koeie moet soggens vroeg en saans deurgegaan word om die bulle, veral bulle wat by veilings gekoop is, se gedrag te monitor.

 

Die aangewese verhouding is sowat 25 tot 30 koeie per bul.  Daar moet ook gepoog word om nie slegs 2 bulle in die trop te hê nie, maar eerder ‘n onewe getal bulle.  Dit is om bakleiery tussen bulle te probeer uitskakel.  Koeie kan ook gesinchroniseer word, en óf geKI óf deur die bulle gedek word.  Indien bulle alleen gebruik word, moet die aantal koeie per bul verminder word.

                 

Raak die koeie dragtig?

Onvrugbare bulle mag baie dekkings toon, maar sonder enige dragtighede, terwyl semivrugbare bulle met herhaalde pogings darem sommige koeie dragtig kry.  Geslags- en ander siektes soos BVD, IBR, Trichomoniase en Vibrio mag bydra tot ‘n bul se swakker vrugbaarheid of totale onvrugbaarheid.  Sorg moet gedra word dat bulle sowat 2 tot 3 maande voor die dekseisoen getoets word vir vrugbaarheid en geslagsiektes.

 

Voltooi die koei die dragtigheidsperiode suksesvol?

‘n Verhoogde voorkoms van aborsies, kan tot ‘n verlaagde reproduksieprestasie van die kudde lei.  Alle aborsies moet ondersoek word om vas te stel waarom die aborsie plaasgevind het.  Die eerste aborsie mag ‘n vroeë waarskuwing wees indien dit korrek gediagnoseer word.  Ongelukkig kan diagnoses slegs in ongeveer 50 persent van die ondersoeke gemaak word.

Kondisietelling van koeie

Die vernaamste faktor wat besetting tot gevolg het of nie, is die kondisie van die koeie.  Koeie in die dekseisoen se kondisie moet verkieslik 3.0 tot 3.5 wees (FIGUUR 4).  Indien die kondisie nog verhoog, is dit nog beter en sal die kanse baie goed wees vir die koei om beset te word.

FIGUUR 4 :  KONDISIETELLINGS VAN 1 TOT 5

Die eerstekalf koeie en verse wat vir die eerste keer gedek moet word, behoort in 1 trop te loop.  Hierdie diere moet nog groei, ‘n kalf grootmaak en weer beset raak.  Volwasse koeie intimideer verse ook by lek- en waterbakke.  Dit is ook aan te beveel dat die trop diere op beter weidings soos aangeplante weiding aangehou word om beter voeding te ontvang.

FIGUUR 5 :  VERSE GEREED OM GEDEK TE WORD

Indien die voeding nie na wense is net voor die aanvang van die dekseisoen nie, kan prikkelvoeding aan die vroulike diere voorsien word vanaf 3 weke voor die dekseisoen begin tot so 3 weke na die aanvang van die dekseisoen. Prikkelvoeding kan ‘n produksielek, of aanvullende voer of ‘n spaarkamp wees.  Prikkelvoeding veroorsaak dat die kondisie van die diere sal begin toeneem.  Al is die kondisie te laag (bv KT 2.5), maar dit is besig om toe te neem, sal die diere dragtig word.

 

Belang van bulle

Bulle is net so belangrik, indien nie belangriker as koeie nie.  Elke bul het ‘n 50% aandeel in sowat 30 kalwers per jaar terwyl elke koei net 50% aandeel in een kalf per jaar het.  Dit is te aanbevele dat slegs stoetbulle (syferbulle) gebruik word aangesien hierdie bulle meerderwaardig in meeste opsigte sal wees.  Die swak punte in die kudde kan dan aangespreek word.  Wanneer bulle geselekteer word slegs op funksionele bouvorm, is dit miskien sowat 30% akkuraat maar dit verhoog dramaties wanneer syfers ook in die seleksiemetode ingebou word.  Dit is belangrik om teen alle uiterstes te diskrimineer.  Foute na die een kant toe word nie deur foute na die ander kant toe reggemaak nie. 

 

Alle bulle moet reproduktiewe fiksheid toon, d.w.s.

  • Libido (die wil om te dek)
  • Dekvermoë
  • Produksie en ejakulasie van ‘n groot hoeveelheid normale semen
  • Moet goed kan ruik.

 

Dis beter om 1 bul te veel in die trop te hê as 1 bul te min.  Daar is verskeie faktore wat die vrugbaarheid by bulle beïnvloed, naamlik:

  • Omgewingsfaktore
  • Veranderinge in klimaat asook in voerkwaliteit is belangrik
  • Hantering wat stres veroorsaak
  • Siektetoestande
  • Voeding
  • Oorvoeding is net so skadelik as ondervoeding
  • Tydens dek is baie meer energie nodig as in gewone omstandighede
  • Genetiese siektes/afwykings
  • Libido en dekvermoë
  • Oorwerkte en onervare bulle sal minder koeie dragtig kry as gesonde bulle
  • Hierdie eienskap is oorerflik

 

 

DIE SPEENTYD

Kalwers wat vroeër in die kalfseisoen gebore word, is oor die algemeen gesonder, sterker en swaarder as kalwers wat laat in die kalfseisoen gebore is.  Daar is vele faktore wat die speenmassa beïnvloed, naamlik:

  • Ras van die diere
  • Koeie met meer melk se kalwers is gewoonlik swaarder
  • Daar is groeiverskille tussen rasse asook binne rasse
  • Koeigrootte
  • Koeigrootte is + gekorreleer met melkproduksie, maar die onderhoud is ook hoër
  • Gebruik eerder koeidoeltreffendheid as maatstaf
  • Ouderdom van die koei
  • Melkproduksie neem toe tot so 5 tot 8 jaar ouderdom waarna dit weer begin daal
  • Sodra ‘n koei begin om ligter kalwers te speen moet sy uitgeskot word
  • Speenindeks en koeidoeltreffendheid is belangrike indekse!

 

  • Produksiestatus van die koei
  • Vorige jaar se prestasie het ‘n groot invloed op hierdie jaar se speenmassa (het sy oorgeslaan of nie?)
  • As sy oorgeslaan het, sal sy ‘n swaarder kalf speen
  • Ouderdom en geslag van die kalf
  • Bulletjies suip sterker en het ‘n inherente vermoë om swaarder te speen
  • Bulletjies sowat 7% swaarder as ossies, en ongeveer 11% swaarder as versies
  • Seisoen en jaar
  • Klimaatsverskille asook weidingsverskille tussen seisoene speel ‘n groot rol by speenmassa
  • Neem kennis van die verskille en bestuur dit!
  • Meerlinge

 

 

OPSOMMING

Daar is baie faktore wat ‘n rol speel by reproduksie – ons moet kennis neem daarvan, veranderinge aanbring aan ons bestuur, en dit tot die beste aanwend om ons beeskuddes so winsgewend as moontlik te bestuur.  Volhoubare veeproduksie word al moeiliker weens verhoogde insette, prysoorloë, siektetoestande, plae en veranderende klimaatstoestande.  Ons as veeprodusente moet egter ‘n bestaan uit vee maak…  Al wat dus nodig is, is ‘n bietjie meer kennis en meer toewyding om al die hindernisse te trotseer, asook meer tyd en bestuursinsette.  Kostegewys behoort dit nie veel meer te kos nie, maar die resultaat sal verstommend wees!  Kom ons maak bemoeienis met ons kuddes en verbeter die winsgewendheid daarvan!

 

BRONNELYS

Greyling, J, Prof, 2004.  Reproduction Management in Beef Cattle.  Vleisbeesproduksie-kursus, Universiteit van die Vrystaat. 

Maree, C, Prof, Casey, NH, Prof, 1993.  Livestock Production Systems – Principles and practice.  Agri Development Foundation.  Pretoria.

Holm, D.E., 2009.  Management and Selection for improved reproduction of the cow herd.  Vleisbeesproduksieskool.

Brinks, J.S., 1994.  Genetic influence on reproductive performance of two-year-old beef females.  Factors affecting calf crop: 45 – 53.  CRC Press.

 

Indien probleme ondervind word, kontak vir:

Hennie du Toit    Pr.Sci.Nat (Anim.Sci)

Vee- en Weidingkundige

Agropedo Armenta

084 515 6817

hennie@agropedo.co.za