Lekbeginsels en die bestuur daarvan

INLEIDING

Lekbyvoeding is van kardinale belang om noodsaaklike nutriënte wat die veld/weiding nie aan die dier kan voorsien nie, te verskaf.  Lek is nie ‘n voer nie en verhoog ook nie die plaas se drakrag nie – dit voorsien bloot nutriënte wat die veld nie kan verskaf nie.

BEGINSELS VAN LEKVOORSIENING

Lek moet elke dag ad lib beskikbaar wees.  Dit beteken dat die dier enige tyd van die dag of nag toegang tot die lek moet hê.  Dus, sorg moet gedra word dat daar altyd lek in die lekbakke beskikbaar is.  Op hierdie manier is die lekinname die laagste en ook die mees effektiefste.  Indien lek fisies sekere dae van die week gevoer word, gebeur dit dat daar somtyds nie lek beskikbaar is nie.  Dit veroorsaak dat die diere ‘n “southonger” ontwikkel en die lekinname sal toeneem sodra die lek weer beskikbaar gestel word.  Dit is in hierdie situasie dat die produsent sê die lek kos te veel en dan word die diere gerantsoeneer  om inname te beheer.  Indien die lek egter vir sowat 2 weke aanmekaar beskikbaar is, sal die lekinname begin afneem en sal die diere net volgens behoefte lek inneem.  Dit is hierdie situasie wat verlang word – lekinname laag genoeg om aan die behoefte te voldoen sonder dat dit die produsent te veel geld kos.

‘n Ander probleem wat telkemale opduik, is waar produsente die aangekoopte, volledig gebalanseerde lek verdun met sout om die inname te verlaag.  Dit is absoluut die verkeerdste benadering aangesien die lek volledig en gebalanseerd is in terme van proteïen, NPN, buffers, oksidante ens.  Hierdie nutriënte is almal in die regte verhoudings tot mekaar en sodanig dat dit net die tekorte in die diere aanspreek.  Die verdunningseffek veroorsaak dat die verhoudings van die nutriënte met mekaar en die dier omver gewerp word en die tekorte sal nie aangespreek word nie.  Gebalanseerde lekke se inname word in elk geval beperk deur sout in die mengsel in te meng.  Die diere se inname word dus beperk.

Die gebruik van hoendermis as proteïenlek word ten sterkste afgeraai en wel weens die volgende redes:

  • Daar is ‘n noodsaaklike onttrekkingsperiode voor die diere geslag kan word van minstens 15 dae.
  • Die koper inhoud van hoendermis is ongeveer 473 g/kg. Herkouers het egter slegs sowat 150 g/kg nodig.  Die oormaat koper moet dus gestoor word aangesien dit nie sommer uitgeskei word nie.  Daarvoor word die lewer gebruik.  Hierdie oormaat koper bou op oor tyd in die lewer wat baie nadelig is en selfs letaal kan wees (dood veroorsaak).
  • Hoendermis kan baie maklik aflatoksiene, mikotoksiene en nitraattoksisiteit bevat weens dooie kuikens in die hoendermis. Hierdie toksiene het ‘n baie besliste nadelige invloed op algemene gesondheid en die daaglikse massatoename kan geaffekteer word.
  • Om hierdie toksiese patogene te vernietig moet die hoendermis eers in ‘n hoop lê en warm raak vir ongeveer 5 dae. Indien die hoendermis vir langer as 5 dae aan die hitte blootgestel word, sal die verteerbaarheid begin daal.
  • Daar mag swaar metale, draad ens in die hoendermis wees wat nadelig is.
  • Die kalsium in diere wat hoendermis vreet, se bloedstroom is laer as in diere wat nie hoendermis inneem nie. Dus kan melkkoors ook ‘n faktor wees om in gedagte te hou en wat mag voorkom by langdurige gebruik van hoendermis.
  • Die reproduksieprestasie kan daal as hoendermis op ‘n gereelde grondslag en teen groter hoeveelhede ingeneem word.

SOMERAANVULLING

Aangesien Suid-Afrika oorwegend ‘n fosfaatarm land is in terme van die fosfaatinhoud van die gronde, is die fosfaat in die weiding ook laag en moet fosfaat deurlopend aangevul word.  ’n Volwasse mediumraam teelkoei benodig ongeveer 6 g fosfaat/dag afhangend van haar reproduksiestatus, grootte, tipe weiding ens.  Hierdie fosfaat word in alle prosesse in die liggaam benodig en aangewend.

Gedurende die somermaande, vandat die gras aktief groei, word slegs ‘n fosfaatlek aanbeveel.  In sommige gevalle word energie hierby gevoeg, afhangend van die omgewing en die doel wat hiermee bereik wil word soos bv waar diereprestasie/groei belangrik is en die diere dalk nog nie by hul omgewing aangepas is nie.  Indien die lek ‘n P6 is, bestaan die lek uit 6% fosfaat en sal 100 gram inname/koei/dag sowat 6 gram fosfaat P aan die dier voorsien.  ‘n Baie goeie fosfaatlek is die volgende mengsel:

  • 100 kg P12
  • 100 kg sout
  • 40 kg melassemeel

Die melassemeel is net om die inname van die lek konstant te hou.

WINTERAANVULLING

Die winterlek voorsien ook die nodige fosfaat P, maar adissioneel daartoe ook proteïen aangesien die veld se proteïeninhoud in die wintermaande uiters laag is en glad nie aan die dier se behoeftes voldoen nie.  Die beginsel is dat hoofsaaklik ‘n nie-proteïen stikstof (NPN) as proteïenbron gevoer word.  Die bekendste NPN bron is ureum.  Hierdie NPN word deur die rumenmikrobes as voedsel gebruik om te vermeerder om die hoër inhoud ruvesel wat in die wintermaande ingeneem word, te verteer sodat die dier die nutriënte kan benut.  Die norm van ‘n winterlek is om minstens sowat 200 gram proteïen per dier per dag te voorsien.  Daarvoor is winterlekke/proteïenlekke van sowat 38 tot 50% nodig.  Hierdie winterlekke is volledig gebalanseer om die inname van die diere te reguleer sodat net die benodigde hoeveelheid van die lek ingeneem sal word.  Voorbeeld:  die inname van ‘n 45% winterlek (bv Westbury Winter 45) behoort laer te wees as ‘n 38% winterlek om dus dieselfde hoeveelheid proteïen en fosfaat te voorsien.  Daar is egter winterlekke waar die fosfaat uitgehaal is en nie meer fosfaat voorsien nie – dan moet ‘n P12 daarmee gemeng word om die fosfaat aan te vul.

Die veld se nutriëntvoorsiening daal vanaf begin Maart sodat dit laer as die behoefte van die dier is.  Dus moet winterlekke alreeds teen Maart aan die diere voorsien word.  Sien die studie deur dr Danie Odendaal in Figuur 1 wat bg verduidelik.

FIGUUR 1:  VELDVOORSIENING VS DIEREBEHOEFTE

Waar Groen – Die dier se behoefte

Swart – Die veld se voorsiening

Belangrik!  Aangesien dit nog reën in Maart tot Mei, kan die winterlek natreën.  Die ureum sal in die water wat in die lekbakke versamel, oplos.  Aangesien dit baie giftig vir herkouers is om daardie ureumbevattende water te drink, moet dit vermy word.  Ureumvergiftiging sal die dood binne minute veroorsaak indien hierdie water gedrink word.  Om hierdie situasie te ontwyk, kan gate in die lekbakke geboor word sodat die water kan dreineer.  Die nat lek kan egter sonder probleme deur die diere benut word.

Die aanbeveling vir winterlek is as volg:

  • In die suurveldgebiede ten minste ‘n 45% winterlek met ‘n redelike groot fraksie NPN
  • In die soetveldgebiede is ‘n 40% proteïenlek voldoende.

OPSOMMING

Lekvoorsiening is uiters belangrik om die liggaamskondisie korrek te hou deur die nutriënte wat ‘n tekort het uit die veldvoorsiening, aan te vul.  Lekke is nie voer nie en verhoog ook nie die plaas se drakrag nie!!  Gebruik lekke wat totaal gebalanseer is en wat geskik vir die spesifieke omgewing en veldtoestand is. 

Indien enige navrae ondervind word, kontak vir:

Hennie du Toit    Pr.Sci.Nat (Anim.Sci)

Vee- en Weidingkundige

Agropedo Armenta

084 515 6817

hennie@agropedo.co.za