- admin@agropedo.co.za
- 066 125 2091
- 063 690 9605
Daar word dikwels gedebatteer oor die waarde van intensiewe en ekstensiewe stelsels en die winsgewendheid daarvan. Elkeen van hierdie stelsels het ’n plek in die landbougemeenskap afhangend van die omstandighede op die plaas en die bestuur van die stelsel.
Wyle dr. Japer Coetzee, ’n bekende veekundige en kenner op die gebied van skaapteling het gesê een van die grootste oorsake van ondoeltreffende skaapboerdery is lamvrektes en dit het ook die grootste ekonomiese implikasies op dié boerdery. Hy het geglo elke boer moet sy stelsel aanpas by sy eie unieke omstandighede, maar daar is vier vereistes waaraan ’n lamstelsel moet voldoen:
Hennie du Toit, Vee- en Weidingkundige van Agropedo, stem hiermee saam. Hy glo egter die spilpunt waarom ’n winsgewende skaapboerdery draai is die voeding en kondisie van die diere. As dit reg bestuur word sal die ander vereistes wat dr. Coetzee stel redelik outomaties volg.
“Met goeie voeding en bestuur sal die lamvrektes tot die minimum beperk kan word. Vir ’n ooi om beset te word, is dit belangrik dat haar kondisietelling aan die begin van die dekseisoen tussen 3 en 3,5 moet wees. Met goeie prikkelvoeding en genoeg lekvoorsiening in die winter én in die somer is die skaapboerdery reeds op die wenpad. As die stelsel kundig bestuur word sal aspekte soos kostedoeltreffendheid en minimum arbeidsinsette in plek val”, is sy mening
Kuddebestuur
Volgens Hennie staan kuddebestuur op drie pilare:
“Reproduksie is die enkele faktor wat die meeste invloed het op die winsgewendheid van die skaapboerdery,” gesels Hennie (sien FIGUUR 1).
Hy voeg ook by dat daar verskeie stelsels is waarvolgens boere werk en dat elkeen van dié stelsels ’n waardige plek in die landbou het. Dit hang net af wat die individuele teler tot sy beskikking het. Hy sê skaapboerdery kan in vier stelsels opgedeel word (sien hieronder). In tabel 1 word die verskillende stelsels opgesom met ’n tropgrootte van 300 ooie in elke stelsel. Vir hom is voeding van kardinale belang.
In die ekstensiewe stelsel word daar slegs van natuurlike weiding gebruik gemaak. In dié stelsel word daar wel van verskillende voer-opsies, soos prikkelvoer en kruipvoer gebruik gemaak om die bestuur en winsgewendheid van die stelsel te bevorder.
In hierdie stelsel word daar nie net van natuurlike weiding gebruik gemaak nie. ’n Gedeelte van die winterweiding is byvoorbeeld mielie-oesreste. Die totale plaasgrootte is dieselfde maar die netto wins is effens groter omdat daar minder kruipvoer benodig word vir die lammers aangesien hulle ook van die mielie oesreste kan gebruik.
In hierdie stelsel word ook van aangeplante weiding as voerbronne gebruik gemaak. Die plaas kan dus kleiner wees om dieselfde tropgrootte te handhaaf. Die wins per hektaar verhoog, maar die wins per ooi neem af omdat die voerkoste duurder word.
In hierdie stelsel is die wins per ooi die laagste. In dié stelsel word daar meestal van besproeiing gebruik gemaak as hoof voerbron. Hoewel dit duur is, kan dit ’n baie hoë drakrag hanteer. Die plaasgrootte neem dus af maar die wins per hektaar verhoog drasties.
Bestuur van die Ekstensiewe stelsel
Volgens Hennie is die meeste skaapplase in die land daarvoor ingerig om ekstensief te boer. Dit verg ook die minste kapitale uitgawes.
“In ’n ekstensiewe boerdery leef die skape van die veld af. Die enigste strukture wat kapitaal gaan verg is oornagfasiliteite en ’n hanteringskompleks. By die Intensiewe stelsel gaan die teler ’n groter kapitale uitleg moet aangaan, maar die voordeel is dat daar minder lamvrektes sal wees en die wins op die end is groter,” verduidelik hy.
Dr. Coetzee het die ekstensiewe stelsel ook in substelsels opgedeel met dien verstande dat die produsent dit kan gebruik wat tot sy beskikking is op die plaas.
Hy sê in die ekstensiewe stelsel word die ooie in troppe van 200 tot 250 ooie per kamp opgedeel en die kampe is verkieslik kleiner as 200ha. In die ekstensiewe gebiede is dit onmoontlik om voortdurend ’n oog oor die lammers te hou en kan lamverliese ongesiens verbygaan. In sulke gevalle is dit noodsaaklik om gereeld die ooie en lammers bymekaar te maak en sorgvuldig boek te hou van watter ooie het lammers, watter het wel gelam maar laat nie die lam suip nie en watter ooie het nie gelam nie.
Dr. Coetzee het van die standpunt uitgegaan dat skaaptroppe in meer hanteerbare troppe verdeel word of dat die stelsel van so ’n aard is dat die daar makliker met almal gewerk kan word en die produsent makliker kan sien wat in elke groepie aangaan.
In die rondskuifstelsel word ooie in kleiner kampe aangehou. Hierdie lamstelsel vereis vier aangrensende kampe met voldoende weiding. Wanneer die ooie begin lam word dragtige ooie daagliks na ’n ander kamp verskuif terwyl die ooie met die pasgebore lammers in die kamp agterbly. Op die manier word die pasgebore lammers en hul moeders vir drie dae alleen gelaat sodat daar binding tussen hulle kan plaasvind. Op die vierde dag word hulle na ’n aparte kamp verskuif.
Hy het ook gepraat van die klein kampiestelsel waar daar van lamkampies gebruik gemaak word. Hierdie klein kampiestelsel raak al hoe meer gewild onder boere wat ekstensief boer.
Die klein kampie en klein troppiestelsel word dikwels gekombineer. Die lamkampe is nie groter as 5 tot 10 ha nie en sommige produsente het permanente klein lamkampies met permanente weidings of eenjarige weiding.
Die klein troppie stelsels is baie gewild onder skaapboere, waar hulle die ooie en lammers in klein groepe verdeel en op die manier die lammers geleentheid gee om met die moeder te bind. Die feit dat die moeder sukkel om haar lam te kry of die lam wat sukkel om sy ma te kry, was dikwels een van die groot redes van lamvrektes.
Oprig en bestuur van Intensiewe stelsels
Hennie verduidelik dat daar met die ontwerp en ontwikkeling van ’n intensiewe stelsel krities gekyk moet word na ’n geskikte terrein.
“Die ligging en ontwerp van ’n intensiewe stelsel of ’n lamkampstelsel, moet baie goed oorweeg en oordink word, want dit kan jou baie geld kos om die stelsel te verander as dit eers in plek is“, gesels hy verder.
Verskeie faktore sal die keuse van die terrein beïnvloed.
“Die eerste is die vraag of die oprigting van behuising en hanteringfasiliteite die uiteindelike inkomste tot so ’n mate gaan verhoog dat die koste binne ’n billike tyd verhaal kan word. Nog ’n faktor is die effek wat die stelsel op die omgewing gaan hê. Potensiële gronderosie wat deur swak beplande stormwaterslote veroorsaak kan word, moet vroegtydig aandag kry. Kyk ook na aspekte soos toegang tot die produksie-eenheid vanaf hoofroetes, werkswinkel en die voer-area. Elektrisiteitsvoorsiening, watervoorsiening, dreinering, afvalhantering en uitbreidingsmoontlikhede is alles faktore wat in ag geneem moet word ten einde die intensiewe eenheid behoorlik te bestuur.
Die intensiewe stelsel of lamhokstelsel word al hoe meer op plase gebruik, veral in gebiede waar roofdiere ’n probleem is. Ooie word, nadat hulle gelam het, individueel in lamhokke geplaas om hulle teen gure weer en roofdiere te beskerm, dit word ook meestal op kleiner plase met ’n hoë persentasie ooie gebruik, of tydens droogtes of waar ooie gelyktydig lam.
Hierdie intensiewe stelsel vergemaklik die identifisering en toesighouding van ooie en hul lammers. Dit beperk ook lamvrektes, maar is aan die ander kant weer meer arbeidsintensief.
Hennie sê daar is baie faktore wat in ag geneem moet word om te besluit watter stelsel jy in jou skaapboerdery gaan gebruik. Die belangrikste om ’n stelsel vir jouself te ontwikkel wat by jou boerdery sal pas en die hulp van kundiges in te roep om jou te help beplan.
Vir meer inligting skakel gerus met Hennie du Toit van Agropedo by 084 515 6817.