- admin@agropedo.co.za
- 066 125 2091
- 063 690 9605
Veld is die enigste bate wat ’n veeprodusent tot sy beskikking het om ’n sukses van sy boerdery te maak. Die gereedskap wat ’n produsent het om dié bate te bestuur is die veelading ten opsigte van die drakrag van sy veld, ’n goeie weidingprogram, ’n rus program, die tipe diere en die gebruik van beheerbare brande.
Beheerde brande kan deel wees van die weidingbestuursprogram met die doel om die veld te verjong.
Cobus Botha ’n professionele wetenskaplike : Natuurlike Hulpbronne: KZN Departement Landbou, sê daar is drie redes vir beheerde brande.
Die eerste is voorbrande om ou materiaal verwyder en ’n uniforme graslaag te kry en op die manier die natuur weer te herstel (of te ”reset”) sodat sekere plantsoorte nie uit die sisteem verdwyn nie. Hy verduidelik dat daar reeds toetse gedoen is om meer vee in die kampe te stuur in plaas van brande, maar dit was nie suksesvol nie. Die diere is te kieskeurig en die onsmaaklike materiaal bly agter terwyl die smaaklike plante weggevreet word.
Die tweede rede is om indringer plante te beheer. Hierdie plante kan die smaaklike en voedsame plante oorheers en op dié manier word die drakrag van die kamp verminder. Hiervoor is ’n koue vuur die beste raad. Die beste tyd is ook op koue dag waar die temperatuur laag is en die humiditeit is hoog. Op dié manier word die ou materiaal weggeneem, maar die wortels van die plante word nie geaffekteer nie en die nuwe groei kan makliker plaasvind.
Die derde rede vir ’n beheerde brand is om bosindringing te beheer. Hiervoor word ’n warm vuur gebruik waar die temperatuur hoog is en die humiditeit is laag. Op dié manier word die bosse genoeg gekarnuffel en is die kans op nuwe groei nie so goed nie.
Nie oral beskik nie
Baie weidingkundiges is egter nie voorstanders van beheerde brande nie.
Prof. Hennie Snyman, ’n bekende weidingkundige van die Universiteit van die Vrystaat sê brande kan nie oral gebruik word nie. Dit word eintlik bepaal deur die hoeveelheid reënval wat ’n gebied kry. Gebiede wat meer as 600mm reën per jaar kry se grond loog uit en die veld is suur. “As die veld eers suur is, wil die diere dit nie verder vreet nie. Die westelike gebiede van die land kry nie so baie reën nie. Dié veld is soet, die diere wei die veld op en in die volgende groeiseisoen kan die veld weer uitloop. In die soetveld bly die veld smaakliker in die wintermaande.”
Dr. Erika van Zyl ’n weidingkundige verbonde aan die navorsingstasie in Dundee, KwaZulu Natal, stem hiermee saam. Sy sê in die droër dele van die land is die groeiseisoene langer en die veld yler, daarom sal die diere die veld kan kaal vreet en gereedmaak vir die volgende seisoen, terwyl in die hoër reënvalgebiede is die biomassa groter, die seisoene is korter en die plante is in kompetisie met mekaar. Die gevolg is dat die proteïen inhoud van die weiding laag is en dit is onsmaaklik vir die diere.
“’n Beheerde veldbrand vat die onsmaaklike dele van die weiding weg en die geraamte van die plante bly staan. Dit is so goed jy “snoei” jou veld in die winter om dit weer voor te berei vir die komende groeiseisoen. In dié gebiede kan verbrossing ’n probleem word en daarom word hierdie praktyk op beheerde wyse toegepas word om die veld te bestuur en te bewaar.”
Sy het ook bygevoeg dat beheerde brande net gebruik kan word as daar te veel brandmateriaal is. Dit is altyd beter om eerder die veld goed te laat bewei.
Brand vs drukbeweiding
Hennie du Toit, ’n weidingkundige van Agropedo, is ook nie ’n groot voorstaander van brande nie. Hy glo dit kan gebruik word om ’n klein stukkie weiding, soos ’n vleiland, wat onder die diere uitgegroei het te herstel maar hy glo dat drukbeweiding ’n beter opsie is as beheerde veldbrande.
Daar is veeprodusente wat brand as deel van hul weidingstelsel inkorporeer, veral in die tradisionele suurveld gebiede. Prof. Snyman glo egter dat dit ’n laaste uitkoms moet wees. Hy stem saam dat hoë drukbeweiding die produsent help om die mikrobes terug te kry in die grond ten einde die grondgesondheid stimuleer.
“Veldbrande vernietig hierdie mikrobes wat ten doel het om die grond se waterhouvermoë te verbeter, die koolstof vlakke te verhoog en ook om voerproduksie te verhoog,” is Du Toit se mening.
Hy sê verder dat brande nie noodwendig ’n swak bestuurstelsel kan regruk nie. Inteendeel, dit sal ’n swak bestuurstelsel net op die kort termyn bevoordeel. Op die lang duur sal jaarlikse brande die wortelstelsel van die weiding verswak indien die herstel periode nie lank genoeg is nie. As die mikrobes vernietig word raak die grond meer onvrugbaar.
“Die beste manier om swak weiding te verbeter is om van optimale benutttingspraktyke en voldoende rus gebruik te maak. Daar is produkte op die mark wat ruvoerinname van vee stimuleer wat help om ’n beter voeriname in die wintermaande te kry.”
Beste tyd vir beheerde brande
’n Mens kan verstaan dat weidingkundiges in die soetveld gebiede huiwerig is om beheerde brane te gebruik en eerder drukbeweiding sal gebruik, maar in die hoër reënvalgebiede moet dit deel wees van ’n goeie veldbestuursprogram.
Cobus Botha sê die tyd wanneer die veld gebrand word, is belangrik. In gevalle waar jy die ou materiaal wil verwyder sonder om die plante se wortels seer te maak is die beste tyd net na die eerste goeie reën. Terwyl brande om bosindringing te beheer ’n bietjie later in die somer is.
Prof. Snyman sê ook dat die vuurbestandheid tussen soet- en suurveld nie met mekaar verwar moet word nie.
In die suurveld is reën nie die beperkende omgewingsfaktor wat plantproduksie bepaal nie. Hier word ’n digter grasbedekking met kleiner en korter graspolle aangetref. In die droër dele is die graspolle yler. Hierdie groter enkelstandige en hoër graspolle in die droër weivelddele genereer ’n meer intense of warmer vuur per graspol. Dit lei tot grootskaalse afsterwing van lote en groeipunte van die polle.
Aan die ander kant is die brandskade aan grasse in die suurveld nie so intens per graspol nie en vorm dit soms deel van die bestuurspraktyke om ontslae te raak van onsmaaklike plantmateriaal.
Rustyd na ’n brand
Na ’n brand moet die veld genoegsame rustyd gegun word om eers te herstel voordat diere in daardie kampe gejaag kan word. Prof. Snyman sê in die soetveld moet dié rustyd lank genoeg wees sodat die graspolle weer volkome herstel en dit kan tot twee jaar duur.
Hy het bygevoeg dat die soet en suurvelde nie eenders hanteer kan word nie.
“In die suurvelde ontvang produsente genoeg reën en daarom is die onttrekking van diere om die veld te bewei, veel korter. In die suurveld word veld meestal van beweiding na ’n brand onttrek vir selfs minder as ’n groeiseisoen. Daar is selfs bestuurstelsels waar diere in die kamp ingejaag word sodra daar genoeg beweibare materiaal is. Hierdie praktyk kan nie in soetvelde toegepas word nie. Die suurvelde het ’n kwaliteitsprobleem wat met ’n periodieke brand reggestel kan word, terwyl die soetvelde ’n kwantiteitsprobleem het en die veld wel effektief bewei word sonder om dit te brand.”
In die geval van ’n beheerde brand as deel van ’n beweiding program word slegs sekere dele van die kamp gebrand. Dr. Van Zyl sê dit is net dié dele met te veel weidingsmateriaal wat gebrand word. Sy verduidelik dat dit eintlik droë materiaal is wat eerder as beddegoed kan dien in plaas van weiding vir die diere.
Effektiewe veldbestuur
Botha verduidelik dat brandpraktyke al vir baie jare ’n deel is van effektiewe veldbestuur in die suurveldgebiede. ’n Goeie veldbestuursprogram staan op ses pilare.
’n Persoon wat so ’n stelsel toepas op sy beweiding is verseker van goeie voedsel vir sy diere.
Die wetlike aspekte
Daar is egter altyd wette en bepalings wat nie net die natuur nie, maar ook jou buurman se weiding beskerm. Maak seker dat jou buurman weet wanneer jy ’n beheerde brand gaan gebruik.
Volgens Du Toit stel die Nasionale Wet op Veld en Bosbrande riglyne en bepalings vir die brand en voorbrande asook beheerde brande.
Hierin word grondeienaar verplig om tussen sy grond en enige ander grond ’n voorbrand te maak wat jaarliks in standgehou moet word. So ’n voorbrand is ’n brandstrook wat skoon geskoffel, geploeg of skoongebrand word. Die plantegroei kan ook chemies beheer en doodgespuit word.
In die geval van beheerde brande moet faktore soos klimaat, wilde plantegroei en dies meer in ag geneem word by die besluit van hoe breed die brandstrook moet wees.
In die suurvelde waar beheerde brande gebruik word om ou materiaal te verwyder, moet daar ten minste 1500kg droë materiaal per hektaar beskikbaar wees, temperature moet onder 20℃ wees en die humiditeit bo 50%. Dit is ook die beste om vroeg in die oggend of laatmiddag ’n beheerde brand te begin.
In die geval van bosbeheer moet daar ten minste 4000kg droë materiaal per hektaar beskikbaar wees.
Vir goeie weidingbestuur kan elke gebied volgens sy eie meriete beheer en bestuur word. Die geheim lê daarin om die toestand van die veld so te verbeter dat dit volgende jaar weer voeding vir die diere kan verskaf. Mik na die langtermyn voordele en nie na die korttermyn kits oplossings nie.
Vir meer inligting skakel gerus met Cobus Botha by tel 084 580 0007, of met Dr. Erika van Zyl by tel 082 321 3960, of met prof. Hennie Snyman by 078 458 5242 of met Hennie du Toit by 084 515 6817.